Saterdag 09 Januarie 2016

Tien punte hoe my kerkpaadjie vorentoe gaan lyk


Vandag ʼn jaar terug was my eerste dag terug in die Kaap van Oranjemund af en gister ʼn jaar terug het ek vertrek. Die 7 Januarie 2015 het ek my laaste blog van die “Wilco se 40-dae-in-die-Mund-refleksies” geskryf.

Nou kyk ek so terug oor die jaar wat verby is en ek lees wat ek geskryf het en hier is ʼn paar interessante insigte wat na vore kom. Dit vorm ook die basis van waaruit dié jaar, 2016, se “kerk”reis vir my begin. Hier is my tien punte hoe my kerkpaadjie vir die jaar uitgekaart word: 

1. ʼn Jaar terug stuur God my na Oranjemund en sê vir my twee dinge:
     a.   Een dit is stilword-tyd. Luister-tyd. Hoor-by-God-tyd.
     b.   In die tweede plek is dit wagtyd. Teen my eie grein, die druk van die wêreld en die verwagting           van familie en vriende in. Om te moet wag.
2. Op daardie stadium was dit alles fine met my. Ek moet wag. Ek het nie gedink en besef dat PAPPA Vader bedoel het dat dié waggery ʼn jaar se gewaggery gaan wees nie. Ek moet wel toegee, ek is wel voorberei reeds vooraf in die jaar, maar hardkoppige mense soos ek verkies om soms dit nie raak te sien nie. Dis mos target ahead, storm full force ahead.
3. Dit alles egter gesê, in retrospeksie besef ek hoe nodig dié jaar was en dat die wag ʼn goeie doel gehad het (laat ek myself net gou in die rede val. Daarmee sê ek nie dat God ongelukke en slegte goed oor ons pad bring nie. Wel dat Hy dit gebruik. As nie gebeur het wat gebeur het nie sou God in Sy almag wel iets anders gekry het om te doen wat nodig was in my lewe. Dit sluit natuurlik nie uit dat Hy nié in Sy alwysheid verras word nie – overgeset, niks verras God nie. Al bring Hy dit nie, beteken dit nie dat Hy nie weet wat gaan gebeur nie. En laastens wil ek ook byvoeg, dit beteken nie ons is uitgelewerde robotte wat maar net deur God rondgeswaai word in ʼn gepredestineerde lewenspaadjie nie. Inteendeel. Maar, dit is belangrik om die volgende te weet, ek het wel dié proses in Sy hande gesit en gevra dat Hy doen wat nodig is sodat ek my lewensdoel op aarde kan vervul, ál my doelwitte bereik en ʼn “sukses” van my lewe, van alles wat Hy my gemaak en gegee het, kan wees tot Sy eer. Dus (baie) skaafwerk is en was nodig vóór die volgende stap geneem kan word).
4. Wat vir my interessant is as ek daai laaste blog ʼn jaar terug lees, dat niks in terme van die geïnstitusionaliseerde kerk verander het nie. Inteendeel, na my mening, het dit versleg.  Ek was vol entoesiasme soos in wegspringblokke dat ek verlede jaar ʼn beroep gaan kry. Maar dit was my wil, nie God s’n nie. En dit het ʼn groot deel van verlede jaar geneem om ʼn klomp goed in my daaroor te stroop, te suiwer en ook om my finaal los te maak. 
5. Maar dit was nie net my ontnugtering in terme van die NG-kerk nie. Baie wyer. Dis nie almal wat skree “Here, Here” en in Jesus se naam preek, profeteer en (letterlik) duiwels uitdryf wat deur Hom gestuur is nie. Dit sê ook nie die persoon het nie dalk ʼn roeping nie. Maar dit is duidelik dat daar baie sogenaamde bedienaars is wat met strooi bou en nie met goud nie (vergelyk 1 Korintiërs 3:9-15). Dit is nie kritiek nie, dit is feite en ʼn aanklag teen die sogenaamde kerk wat lyke langs die pad los in plaas van dissipels van Jesus te maak. ʼn Boom word immers aan sy vrugte geken.
6. Een van die grootste waarhede wat in my ontkiem het is die verantwoordelikheid van die kerk en geroepenes. Dank die Here Hy het nie net een ou skapie kom roep om herder te wees nie. Jesus self het immers 12 apostels gehad en minstens 125 dissipels wat daarna gegroei het. Geroepenes soos Paulus is bygevoeg om aan ons die waarheid van die evangelie in teenstelling met godsdiens te kom oopbreek. Vandag steeds roep God baie arbeiders in sy Koninkryksdiens op verskillende vlakke om sy kinders te lei na ʼn lewe van oorvloed. Hier is nie ʼn kompetisie nie, maar ʼn handevataksie van ware gesalfdes om God se Koninkryk hier sigbaar te vestig. Jesus self het ons egter gewaarsku dat daar wolwe in skaapsklere sal wees wat hulself bedienaars noem. Die onkruid sal saam met die koring groei en eers met die oes uitgeskud word. In die jaar wat voorlê sal ek nog baie skryf oor die kenmerke van die ware kerk (amper soos die reformatore in die kategismus gemaak het).
7. In my eie lewe gaan daar hierdie jaar twee aksies deurgevoer word. Maar voordat ek hierop uitwei, net so vinnige terugkeer na die wagtyd. Die wagtyd wat ek gedink het eindig met my weggaan uit Oranjemund uit, was toe nie verby nie. Nee dit moes ʼn volle jaar duur. ʼn Jaar waarin my frustrasies hoogty gevier het en wat die Heilige Gees gebruik het om my te bring by die plek waar ek moet wees in siel, liggaam en gees. Dit was ook ʼn stil-tyd. My kreatiwiteit was bitter laag. Ek kon nie musiek skryf nie en ook nie geblog kry nie. Ek kon selfs nie eers behoorlik gelees kry nie. Dit voel amper asof daar ʼn vakuum was (en nee, al het ek hier en daar deur ʼn kortstondige tyd van depressie beweeg, dit was nie as gevolg van depressie nie. Dit was God wat besig was met brandwerk – suiweringswerk.) Einde van verlede jaar begin ek Woord en woord kry dat dit nou tyd is vir aksie. Dat my wagtyd aan die verbygaan is en dat ek moet gereedmaak om te begin uitstap. Dít is wat in 2016 gaan gebeur. Die begin van groot dinge en ʼn magtige groot werk wat baie dinge gaan verander, in my eie lewe en in duisende ander mense se lewens.
8. So wat gaan gebeur. Benewens die praktyk, wat deel is van my koninkrykswerk maar waaroor ek nie hier wil skryf nie, want die blog gaan oor die kerk, gaan die eerste kerk geplant word. ʼn Kerk in Afrikaans vir “Afrikaners” van alle kulture, kleur en agtergronde. Nie kerk in die tradisionele verstaan van kerk nie. Ook nie ʼn godsdienstige instelling nie en beslis nie vir godsdienstiges wat hul gunsteling (Engels: pet) dogmatjies oor wettisisme en godsdienstige gebruike, die eindtyd, God se name, doop en bekering, bevryding of watter ander wettiese of godsdienstige gebruike waarmee hulle kinders van God wil kom bemors en hul gees en verstand mee besoedel nie. Nog minder ʼn plek van oordeel en veroordeling. Of voorgee en pretensie. Nee, dit sal ʼn geloofsgemeenskap wees waar kinders van die Here in verhouding met mekaar die evangelie van Jesus in en saam met mekaar se lewens in opregtheid soos en wie hulle is uitleef in ʼn lewe van oorvloed. Met ware, goeie professionele lofprysing en aanbidding. Met Skrifgetroue en dinamiese, praktiese lering om jou daagliks te motiveer, op te bou en te versterk. Met ʼn geloofsgemeenskap waar ware omgee in koninkrykswaardes ʼn alternatiewe, lewendige en ware lewenservaring word. En waar elkeen wat Jesus as sy of haar Here, Messias of Redder bely, kan deel wees van die Zoë-Geloofsgemeenskap.
9. Die tweede ding wat die jaar begin is die ontwikkeling van ʼn model om hierdie tipe geloofsgemeenskap onder Afrikaanssprekendes te vestig. My droom en doelwit is om nie net in die stede nie, maar op die platteland kerke te plant waar só ʼn geloofsgemeenskap uitgebou kan word. Ons het unieke kulture, gewoontes en behoeftes as Afrikaanssprekendes. Die tyd is verby om Amerikaanse of Singapoerse of Engelse modelle  (met die hoogste waardering vir wat hul doen) hier te wil probeer afdruk. Ons kultuur is uniek en ons hoef nie verskoning te vra vir wie ons is en hoe ons leef nie (en dit beteken hoegenaamd nie die Afrikaanse kulture staan teenoor of is verhewe bo enige ander kultuur nie. Elke kultuur is uniek en het ewe veel bestaans-en uitleefreg. Dit beteken slegs ons hoef nie terug te staan vir wie ons is nie. Dat ons net soveel reg het om onsself te moet uitleef.) Dié model sal ontwikkel word in die vorm van ʼn Phd-proefskrif waarmee ek dié jaar gaan begin en in 2017 wil afhandel.
10. Hierdie was slegs die eerste of openingsblog in hierdie blog bladsy. Om uitvoering te gee aan dit wat ek hierbo verduidelik het, gaan ek hierdie jaar verskeie fasette van wat die kerk wat Jesus begin het, die Ekklesia, Sy liggaam, in teenstelling met godsdienstige instellings en denominasies en gestruktureerde en geïnstitusionaliseerde karikature van dit wat Jesus op aarde kom bring het, verduidelik en uiteensit. Dít alles sal die basis vorm van ʼn boek wat ek later beplan om oor hierdie onderwerp te skryf en ook van die model wat ek besig is om te ontwikkel en waarmee ons talle kerke in Suid-Afrika en in die res van die wêreld gaan plant. 

Aan die einde van 2016 is die bestemming, wat met die bakens wat hier uitgekaart is langs die pad, om ʼn lewendige, dinamiese, liefdevolle geloofsgemeenskap te wees wat groei en gebou is op en geanker is in Jesus. ʼn Ekklesia wat ʼn reuse verskil bring in hul persoonlike wêreld as ook die wêreld waarin hul bly.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking